Likkewaan by Carien Smith

15 Dec 2015

Carien Smith’s story “Likkewaan”/”Leguan” was nominated by PEN Afrikaans for the 2015 PEN International New Voices Award. PEN South Africa’s nominees were Liam Kruger for “Sarah” and Genna Gardini for “Performance Scale”.

“Likkewaan” is published in the Nuwe Stories 3 anthology published by Human & Rousseau, who have kindly given us permission to share the story. Please note it may not be published elsewhere.

Read “Likkewaan” below or click here to read “Leguan” translated from the original Afrikaans by Marius Swart and click here for our Q&A with Carien.

Likkewaan by Carien Smith

’n Taxi toeter. Haastig. Kwaad. Wiele knars en spoeg gruis. Ek hoor iemand in die verte skree. ’n Ander skree terug.
+++Dis tweede pouse en almal is buite. ’n Sokkerbal gemaak van ’n bondel ryssakke trek oor die kaal veld. Die seuns storm agterna. Lefu skop die bal vir Piti en Piti vir Sehlolo. Dan mik Sehlolo om die bal tussen die twee takke aan die bopunt van die veld deur te skop. Die bal trek skeef en beland in die pad. Ek wil nog roep en sê hulle moet dit los, maar Piti is klaar in die straat.
+++’n Taxi jaag verby en die kind verdwyn in ’n stofwolk. Ek hardloop terwyl ek die wêreld vloek. Ek wil nie hier wees nie! Halfpad oor die veld sien ek vir Piti. Hy staan en lag wraggies vir my.
+++Die middagson skel teen die rooi grond en die hitte kaats terug. Stof hang versmorend in die lug. Alles hier ruik en proe na stof. Ek loop terug skool toe en soek na ’n skadukol. ’n Skraal skerf maak skaars die punte van my skoene toe as ek met my rug styf teen die muur staan. My gesig is in die son. Vandag brand hierdie son my weer pienk. Ek drink ’n slukkie uit my waterbottel. Louwarm. Ek moet keer om dit nie uit te proes nie.
+++’n Groep meisiekinders speel ’n speletjie: ’n klip word gegooi en dan spring ’n kind; dan gooi die ander kind weer ’n klip en spring. Die skril stemme jil onophoudelik en hulle kaal voete skop stofwolke op met elke sprong. Dit herinner my aan jare gelede se klippie-hink speel op die plaveisel in die diep skaduwee van flambojante en koraalbome.
+++Botshabelo se taxi’s jaag toeterend verby die skool. Heen en weer. Besig. Altyd besig. Altyd raserig.
+++Ek het waaragtig genoeg gehad. Hierdie geraas raak ’n mens nooit gewoond nie. Elke stukkie ruimte word deurdring deur die geweld van klank. Ek het selfs al ’n skoot hoor klap, helder oordag. Nou probeer ek my doof en blind hou. Nie dat ek dit regkry nie. In hierdie wêreld is geweld net ’n tree buite die klaskamer.
+++Ek het amper twee maande terug hier aangekom. Pas klaar geswot, pas graad gevang en onvoorbereid op die werklikheid. Bang, want ek het nie geweet wat om te verwag nie. En kwaad vir die onderwysstelsel wat my hier uitgespoeg het. Dis nie waar ek wil wees nie. ’n Student het baie drome, en nie een van myne was om op ’n Januarie-oggend by ’n klaskamer met ’n grondvloer, ’n mankoliekige boekrak en stukkende vensters in te stap nie.
+++Met die eerste sien was die skrik al daar. Die likkewaan. In die hoek, agter die boekrak. Sy kop het laag gelê en sy oë was op my.
+++Toe ek later weer kyk, was hy weg.
+++Ek is hier om ekstra Afrikaans-klasse te gee. Dis beter as niks. Drie oggende ’n week het ek terreindiens voor ek die graad 3’s tot 7’s in my klas het. Die kinders het my gou geleer dat die klas se vloer gebruik kan word as ’n skryfbord. Ek het gegril vir die sand, maar het noodgedwonge kruisbeen gaan sit.
+++Ons het eers spel-speletjies gespeel. Toe leer ek hulle om ’n woord in die sand te skryf en ’n storie daaroor te vertel. Dan skryf ’n ander kind die volgende woord en die storie word verder vertel.
+++Dis Letlotlo se beurt. Sy kies die woord “likkewaan”. Só klink haar storie.
+++“My groot-groot-groot-oumagrootjie het vertel: ‘Ba re e ne re.’ ”
+++“Qooiiii,” antwoord die kinders.
+++“Die man, hy was baie lief vir sy meisie en hy was opgewonde oor die trou. Hy bid vir God en vra dat God hom en sy vrou baie gelukkig sal maak. God stuur ’n boodskap vir die man saam met die verkleurmannetjie: ‘Hierdie vrou het jou baie lief en gaan vir jou ’n kind gee. Sy sal alles doen om jou gelukkig te maak.’
+++“Die skelm likkewaan, hy luister toe God die verkleurmannetjie stuur met die boodskap. Hy is kwaad. Hoekom stuur God die stadige verkleurmannetjie en nie vir hom nie? Hy is baie vinniger. Hy besluit hy sal die boodskap voor die verkleurmannetjie aflewer. Die volgende dag begin die verkleurmannetjie en die likkewaan hulle reis. Die likkewaan kom voor die verkleurmannetjie by die man aan. Die man en sy meisie is al getroud en hulle het ’n jong seuntjie.
+++“Die likkewaan gaan fluister in die man se oor terwyl hy slaap: ‘Dié vrou, sy is baie sleg. Sy is nie getrou nie en sy is nie lief vir jou nie.’
+++“Die man raak die volgende môre wakker. Hy glo dat God met hom in sy slaap gepraat het en hy weet hy moet luister. Hy raak stiller en stiller. Dit maak sy vrou baie hartseer, want sy kan nie verstaan wat fout is nie. Sy hou op met eet. Sy raak maer. En sy is dood. Die man was baie hartseer.
+++“Teen die tyd wat die verkleurmannetjie by die man se huis aankom, sien hy die vrou is dood. Daardie aand toe die man aan die slaap raak, fluister die verkleurmannetjie in sy oor: ‘Jou vrou was baie lief vir jou. Sy was getrou, sy het jou ’n kind gegee. Sy sou haar lewe vir jou gee.’
+++“Die man hy het gehuil toe hy wakker raak die volgende môre.”
+++Letlotlo maak ’n buiginkie en die kinders klap hande. Só weef hulle stories uit hulle wêreld vir my terwyl ek in die hitte sit en luister.
+++Verlede Vrydag, op my verjaardag, vat die kinders my buitentoe, na die verste hoek van die speelterrein.
+++“Juffroujuffroujuffroukomkyk!” skree hulle.
+++Hulle wys vir my ’n prentjie op die grond: bruin blare is as blomme gerangskik, met ’n stokkie vir die stam. Die son is ’n cokebottel se prop en stokmannetjies staan weerskante en hou hande vas met ’n meisie-mannetjie in die middel. Sy dra ’n driehoekige rok van Fanta-doppies.
+++Ek voel hoe ’n klam handjie in myne glip. Letlotlo kyk op na my. In haar palm is ’n rooi Wilson-toffie.
+++“Lekker verjaar, Juffrou!” roep die klas.
+++“Dis van ons af, Juffrou,” sê Letlotlo met die toffie in haar hand.
+++Die kinders se oë is afwagtend op my. Ek gril vir die sweterige handjie waarin die toffie lê, maar glimlag en neem dit by haar. Die hele klas klap hande.
+++Ek verskuif my rug teen die muur. Die son bak neer, maar ek weet daar’s nêrens ’n hoek of gat met ’n bietjie skaduwee nie. My horlosie wys die pouse is amper verby.
+++Die meisiekinders klap nou hande en sing liedjies. Ek luister na die lispelklanke van die vreemde taal. So anders as die klikklanke aan die Ooskus van my kindertyd.
+++Ek raak bewus van ’n gestoei op die sokkerveld. Kinders hou op speel en hardloop om te sien wat aangaan. Ek loop vinnig nader om te kyk wie die moeilikheidstokers is. Dis Lefu, hy stamp vir Sehlolo op die grond.
+++“Wat gaan hier aan? Lefu, hoekom het jy vir Sehlolo gestamp?”
+++Lefu bly stil. Hy kyk na sy kaal voete.
+++“Lefu?”
+++“Hy’t my gestamp, Juffrou, omdat ek te lank gevat het om die bal vir Piti te skop,” sê Sehlolo kwaad.
+++“Lefu? Dis nie mooi nie.”
+++Die seun sê steeds niks. Ek wil hom aan sy skouers ruk om reaksie uit hom te kry.
+++My ergernis kook oor. “Sê jammer vir Sehlolo, Lefu!”
+++Geen antwoord.
+++“Dan sal jy môre detensie sit. Julle twee is mos al groot, skaam julle!”
+++Die skoolhoof kom buitentoe en blaas sy fluitjie. Pouse is verby.
+++Voor die klas sien ek hom weer: die likkewaan se stert wat tussen die klomp kinderlywe by die klas inglip. Ek gaan staan agter my lessenaar en vra die kinders oor die likkewaan, maar niemand het hom gesien nie. Dan merk ek dit: reg langs my lessenaar lê sy sleepsels in die stof.
+++Die klas is onrustig. Ek kry die meisiekinders sover om een vir een uit ’n storieboek te lees. Onderlangs bly die seuns praat en woel. Dis ’n stryery. Ek wil hulle wurg. Vandag is net te veel.
+++“Wat gaan daar agter aan? Hoekom is julle seuns so bakleierig vandag? Hou tog net op!”
+++Hulle kyk bot na my en ons gaan aan met die leeswerk. Ná ’n rukkie begin die stryery weer. Ek het genoeg gehad. Ek staan op en stamp met my voet op die grond.
+++“Sehlolo, gaan staan buite die deur. Nou! Lefu, agter in die hoek.”
+++Die seuns is kwaad, maar hulle staan gehoorsaam op. Ek gee vir die res van die klas ’n stilleesopdrag.
+++Ek voel daar is iets aan die broei. Maar wat?
+++Ek begin merk die klas se opstelle. Die hitte maak almal krapperig en die kinders bly onrustig. Ek wil uit my vel klim. Een vir een merk ek die opstelle. Die onderwerp is “ ’n Dag in my huis”. Derde van onder kry ek Lefu s’n.

My hys is klyn met twee kamirs. In een kamir is daar twee mitrasse. Ek en my twee ouer broers deel een. Ma en dad en my bybie sussie deel die anir een. Die anir kamir is klyner. Dis waar ons vuur brand en kos maak. Gistraand het dad gan drink. By die shibien en ma is nie happy nie. Ma is baie kwaat, sê sy vir dad. Dad het Sehlolo se pa geslat omdat Sehlolo se pa lelik gepraat het met dad. Ma is kwaat! Sehlolo se pa het dad gevloek!

Ek is so moeg vir Botshabelo met sy geraas en die sweterige kinders en die aggressie wat heeltyd broei. Dis amper huistoegaantyd en ek laat Sehlolo terugkom in die klas. Ek skryf die huiswerk op ’n kartonbord wat ek van ’n boks gemaak het en die kinders skryf dit neer op flenters papier.
+++Ek draai om toe daar weer ’n geskuifel agter in die klas is.
+++“Wat is dit met julle seuns? Hou op!”
+++Uit die hoek agter die boekrak kyk die likkewaan met duiwelsoë na my. Ek vee oor my gesig om my humeur te beteuel. In hierdie plek is geen orde nie! Toe ek weer kyk, is die oë weg.
+++Ek draai terug en skryf verder. Ek voel hoe sweet teen my rug af loop. Die onrus in die lug bly.
+++“Pasop!” skree ’n meisiestem.
+++Ek draai om. Die likkewaan blaas.
+++Reg voor my staan ’n kind. In sy hand, ’n lem wat flits.
+++Agter in die klas lê ’n kind in ’n plas bloed.
+++Botshabelo stink na likkewaan en bloed.

Share