Girona-Manifes Oor Taalregte – Afrikaans

13 May 2011

PEN Internasionaal bring die wêreld se skrywers byeen.

Die Vertaal- en Taalregtekomitee van PEN Internasionaal het vyftien jaar gelede vir die eerste keer die Universele Verklaring van Taalregte in Barcelona bekend gemaak.

Vandag verklaar dieselfde komitee op ’n byeenkoms in Girona’n Manifes van die tien vernaamste beginsels van die Universele Verklaring.

1. Taalverskeidenheid is ’n wêrelderfenis wat waardeer en beskerm moet word.

2. Respek vir alle tale en kulture is deurslaggewend om dialoog en vrede in die wêreld te skep en te handhaaf.

3. Alle mense leer om te praat in die hart van ’n gemeenskap wat aan hulle lewe, taal, kultuur en identiteit skenk.

4. Verskillende tale en verskillende maniere van praat is nie slegs ’n kommunikasiekanaal nie; dit is ook die milieu waarbinne mense groei en kulture beslag kry.

5. Elke taalgemeenskap het die reg dat sy taal as ’n amptelike taal in sy gebied gebruik word.

6. Skoolonderrig moet bydra tot die aansien van die taal wat die gemeenskap in die gebied praat.

7. Dit is wenslik dat burgers algemene kennis van verskeie tale dra, aangesien dit deernis en intellektuele openhartigheid bevorder en tot ’n dieper kennis van jou eie taal bydra.

8. Die vertaling van tekste, veral die groot werke van verskeie kulture, is ’n baie belangrike bousteen in die noodsaaklike proses van groter begrip en respek tussen mense.

9. Die media is by uitstek ’n luidspreker om taalverskeidenheid te laat gedy en om die aansien daarvan bekwaam en nougeset te verhoog.

10. Die reg om ’n mens se eie taal te gebruik en te beskerm moet deur die Verenigde Nasies as een van die grondliggende menseregte erken word.

Vertaal- en Taalregtekomitee van PEN Internasionaal

Girona, 13 Mei 2011

Share